Sjoe, ek hoop julle is reg vir hierdie lang storie… ek moes dit al lankal gedeel het. Dalk toe alles nog vars en rou was, maar hier is dit nou.
Meeste droom op skool van hoe hulle dink hulle lewe moet uitdraai. En dis great, want om te droom gee rigting.
Wel ek het altyd gedink dat ek ‘n boer sou trou. My lysie van wat ek gedink het my man moes wees, was redelik duidelik. Onder andere moes hy ‘n Christen, blank en Afrikaans wees. Hy moes van vas dans, die natuur en die buitelewe gehou het…
Nou die wat my Man ken, weet dat ek slegs die 1ste drie belangrikste punte op my lysie gekry het. Ek en my Man verskil soos dag en nag, letterlik! Hy’s meer van ‘n stadsjapie, terwyl ek net wil buite wees. Hy braai op ‘n weber, ek soek ‘n groot kamvuur met behoorlike hout. Hy’s ‘n naguil, ek’s ‘n sonsopkoms mens.
Toe ek besef dat ek verlief is op ‘n nerd, ‘n rocker 🎸, ‘n gamer 🎮, ‘n intelligente ensiklopedie, ‘n sports fanatikus, ‘n adrenalien junkie en net mooi alles wat ek NIE as belangrik ge-ag het nie… was dit te laat. Die koeël was deur die kerk.
Ek besef natuurlik dat as ek my way gehad het, sou ek nie vir lank gelukkig gewees het. Die man van my hou my op my tone. Nes ek dink ek raak effens verveeld dan gooi hy vir my ‘n curveball.
Ons het ons lewe mooi saam beplan. Eers vaste werk, trou, karkoop, huiskoop, settle en dan kinders. Wel dit was ons droom.
Alles het vlot verloop. Ons het gesettle in ‘n lieflike dorpie, naby ons werke, karre is afbetaal, huis is gekoop en al wat nou nog gekort het, was kinders…
- 2007 getroud
- 2009 pil / voorbehoed gelos
- 2011 gesettle
- 2012 na 2013 x 3 IUI
- 2014 IVF en ICSI
- 2021…
Sjoe wat tussen die jare alles gebeur het is omtrent ‘n paar stories. Maar ek wil graag praat oor die verwagting van kinders kry.
Agtergrond: Ek was reeds op die depo-provera inspuiting van skooldae af. In 2008 het ek geskuif na die pil toe om my siklus gereeld en gereguleerd te kry en in 2009 het ek die pil gelos. Dis ‘n vreemde, opgewonde, bang gevoel om te dink dat jy sommer met die eerste probeerslag kan swanger wees. En daarna is dit net teleurstelling op teleurstelling met elke period wat kom. Almal om jou het raad en weet van beter. “Die inspuiting moet uitwerk, die pil moet uitwerk, jy moet ontspan, hou op stres daaroor, moenie probeer nie, geniet dit net…
Ons was rustig, want dit was mos maar net voorbereiding… aan die einde van 2011 trek ons in ons eie huis in en alles moet mos nou in plek val. Ons bid vir ‘n baba of vir vrede dat ons nie kan kinders hê nie, want laat U wil geskiet.
In 2012 begin ons met ‘n duisend indringerige toetse en ek (en manlief) word heel uit ons “comfort zones” gepluk. Ons gaan vanaf die gewone huisdokter, na baie bloedtoetse en toe verwys na ‘n ginekoloog. Die ginekoloog doen sy eie toetse en scans ens, dat ek naderhand geen skaamte meer oorhet nie. Ek voel soos ‘n masjien in ‘n dwalende-droom na hoop. Waarmee is ons besig? Dit kan tog nie so moeilik wees om kinders te kry nie. Dr beveel IUI vir ons aan. Na maande se probeer, is ons 3 keer deur die proses. IUI is wanneer die ginekoloog die sperm in ‘n kateter optrek en so “naby” as moontlik inspuit, tydens ovulasie. Dr gee vooraf vir my pille dat ek ‘n eier of twee ekstra kan hê per maand en ons maak vrede dat ons nou al selfs bereid is vir ‘n tweeling. Dis ‘n mislike emosionele pad vol opeenvolgende hoop en teleurstelling. Ons bid vir ‘n tweeling of vrede, want laat U wil geskiet.
Daarna google ons wild vir die beste Dr in Durban wat slegs met onvrugbaarheid spesialiseer. Ek dink dis desperaatheid wat mens so na waansin dryf. Die Dr het pragtige spreekkamers vol pragtige suksesvolle wonderwerkies. Kyk die Dr was “goed”. Hy het puik “bedside manner” gehad, ‘n gladde bek en natuurlike ‘n arrogante ego. Hy het kamtige goeie insig vir ons dilemma gehad. Maar toe kom die wantroue en twyfeling in toe hy my man wil begin betas en aan my wil begin sny. Ek glo jy gaan nie onder die lem as dit nie werklik nodig is nie. Jy sny nie waar nie fout is nie. Baie Google en familie en vriende en bespiegelinge later, besluit ons teen die Dr. Hy was toe net ‘n gladde bek kwak, wat net in dit was vir die geld. Hy wou al die bloedtoetse laat oordoen, want blykbaar is sy private (dubbele kontant prys) laboratorium beter as alle Lancets/Ampaths se resultate. Goeie genade maar hy het ons sak geruk vir niks. Ons gaan in danksegging vir die bullet wat ons gedodge het, laat U wil geskiet.
Vandaar is ons na ‘n koddige Dr al die pad na Pretoria toe. Ek het persoonlike verwysings oor hom gekry voor ons verdere stappe geneem het. Dit was ‘n baie moeilike tyd om dinge so ver van die huis af gedoen te kry. Dankie tog vir vriende en familie wat ons hierdeur gedra het. Ons het sommer IVF en ICSI gelyk aangepak. Dis ‘n buitensporige, finansiële, emosionele, duur affêre, wat ons net eenkeer sou probeer. Ek moes leer hoe om myself in te spuit dat ek meer eierselle kon produseer. Ek moes deur alles alleen gaan terwyl manlief die pot aan die kook moes hou en slegs sy donasie kom gee op D-day. Dr het 19 eiers getel wat ons moes bly monitor vir die regte tyd en ovulasie. Toe trek die Dr al 19 eiers uit onder ligte verdowing. Ons het besluit om halfies-halfies te gaan. IVF is wanneer Dr 1 eier tussen sperms sit en hoop hulle doen wat hulle moet doen. ICSI is wanneer hul ‘n kwansuis sterk sperm direk in die eier inspuit. Uit ons 19 eiers en ‘n paar dae se wag het sleg 3 oorleef. Maar dis ok, want 3 is ons lucky number. Ons vat al 3 en bid vir al 3, maar voor ek kan toets vir bevestiging misluk almal. Dr sê hy vermoed dat ons onversoenbaar is en mekaar moontlik afstoot. Dis blykbaar 1% se gevalle in die hele wêreld. Ons bid vir ‘n drieling of vrede, want laat U wil geskiet.
Dis ‘n seer en ‘n teleurstelling wat ek nie kan verduidelik nie. Ons gee op. Emosioneel, fisies en finansieel, was ons net nie bereid om weer hierdeur te gaan nie. Ons gee op en bid: Heer ons smeek vir ‘n baba OF vir vrede. Broeisgeid is ‘n mislike ding. Hoekom kan jy van nature deur soveel marteling wil gaan net vir ‘n baba. Dis onverstaanbaar en mens kan dit nie verduidelik nie. Dit moet tog moedersinstink wees. Die Dominee bid, die familie bid, die vriende bid, maar die antwoord bly NEE.
My lyf is geswel, my pens staan asof ek ‘n drieling gehad het, my emosies is orals oor die plek, my period is swaar, my borste is seer, my hart is gebroke en ek sweer net daar en dan dat ek nooit weer hierdeur sal gaan nie. Ons was werklik finansieel, fisies en emosioneel uitgeput. En ons bid slegs vir vrede, want laat U wil geskied.
Ons vind toe van ‘n laaste Dr uit in die middel van ons vrede. En ek besef dat die wat nog lees seker dink dat dit nou gaan gebeur. Spoiler alert, dit het nie. Dit het net ons vrede versterk en bevestig. Die Dr was die beste uit almal uit. Sy is ‘n mediese dokter wat spesialiseer met kruie en naalde. Ons gaan sien haar. En viola ons voel soos nuwe sikspense (of altans ekke) Sy praat stories, sy’s gemaklik, sy’s selfversekerd, sy’s kalm en gee ons net nog meer vrede. Haar kruie het al my hormone uitgesorteer, my gemoed het opgetel, ek het 16kg gewig verloor, ek’t net weer soos my self begin voel. Ek beveel haar vir ALMAL aan, maak nie saak wat jou kwale is nie.
Vrede is tog waarvoor ons gevra het. En ons vrede wat ons ontvang was net so onverklaarbaar. Ons vind geluk in mekaar. Ons is vry van enige verpligtinge en dinge wat ons vashou. Ons reis deur die wêreld sonder enige bekommernisse en het absoluut NIKS om oor te kla nie. Ons het nie slegs vrede ontvang nie, maar soveel te méér seëninge. Ek besef weereens dat God se plan soveel beter was as myne. Ek kry skaam dat ek dit alles in my eie hande wou neem en forseer.
Ons moes seker gebid het vir die familie en vriende se vrede ook, want hulle kan nie verstaan hoe ons net kan “opgee” nie. Tot vandag toe nog het ek vriende wat vir my sê:
- “Jy’s volgende”
- “Wanneer probeer julle weer”
- “Net nog eenkeer”
- “As jy ontspan sal dit gebeur”
- “Het jy dit al probeer”
- “Gaan sien daai Dr”
- “Vergeet net daarvan, dan sal dit gebeur”
- “Ag shame, het jy gehoor daai een is swanger”
Ja dit was nie altyd lekker om na baby showers toe te gaan en te weet jy probeer en dit gebeur net nie vir jou nie. Ek’t ‘n vriendin se pasgebore baba photo shoot gedoen, op die dag wat ek uitgevind het die IVF het misluk. My oë was dik gehuil, my emosies was orals, ek was fisies in iemand anders se lyf, terwyl ek moes smile en drukkies uitdeel, van iets waaroor ons al vir jarre droom. Moet my nie verkeerd verstaan nie-ek het die shoot geniet, want hy was ‘n wonderwerk en dit was vir my ‘n groot voorreg om in hul vreugde te deel. Dit was nie ‘n maklike tyd nie, maar hoe maklik moes dit wees as ek dinge so wou forseer? As ek my sin gekry het, sou ons geld moes spaar vir universiteite in plaas van al ons reise en avonture. God het nee gesê vir ons droom, want Hy’t soveel beter vir ons lewe beplan. Ander maak doeke skoon, terwyl ons wyn drink in Nice. Ons kon reis terwyl ons jonk en jukkerig was in plaas van eendag as ons moet aftree. Daar is geen pil of genesing vir daai reis-gogga nie. WAT ‘N VOORREG.
Ons is 14 jaar kinderloos en gelukkig getroud, met meer as waarvoor ons gevra het.
What will be, will be. Solank dit net nie in my hande is nie, maar in God se hande. Want ons kan ons pad beplan, maar die Here bepaal hoe hy loop.

Laat U wil geskied.