Tag Archives: flying

Om te vlieg

Daar is ‘n paar dinge om in ag te neem wanneer jy jou vakansie beplan, maar die eerste stap is om jou vlug te bespreek. Uit ervaring kan ek my ongevraagde opinie gee oor waar om te sit, maar dit bly jou persoonlike voorkeur.

Laasjaar het daai “bright spark reisagent” my so ewe vertel dat die beste sitplek heelagter is. Wat my die meeste verbaas het, is met hoeveel oortuiging die “spesialis” die sitplek aanbeveel het. Gelukkig vir Boeta, het Sussa al voorheen die fout gemaak, so ek het toe sommer self sy sitplek bespreek.

Om agter te sit het die volgende nagevolge:

  • Dit verkort jou reis deur ‘n paar interessante speletjies te speel om die tyd verby te kry, soos om te raai wat jou medereisigers vir middagete gehad het. Jou reuksintuig word goed beproef, elke keer as die toilet se deur oopgaan. En jy het natuurlik die voorreg om eerstehands te oordeel of die persoon maniere het, deur na hul verleentheid of arrogante gesigsuitdrukkings te kyk wanneer hul uit die beknopte spasie kom.
  • So van middagete gepraat: Dis ook ‘n baie nederige sitplek, siende dat jy letterlik heel laaste in die ry is vir etes. Daar is geen keuse van “chicken or beef”. Die lugwaardin kan sommer sien dat jy ‘n vegetariër is en ‘n blaartjie wil herkou. As jy nie is nie, kom jy duidelik nie uit ‘n agtergeblewe area uit nie en kan jy maar sonder daai reukie ook gaan. So ek vra graag wat die vegetariese maaltyd is, waarop sy met ‘n baie oortuigende, vriendelike glimlag antwoord: “it’s vegetables” Ek verbaas my nie veel hieroor nie, want blykbaar is my aksent baie volksvreemd, so ek probeer weer vra, deur my woorde beter te vorm. Waarop sy antwoord: “it’s vegetables”
  • Dit is ook die mees interessantste area om ‘n verskeidenheid diverse karakters te ontmoet. Dis nie verniet die goedkoopste sitplekke op die vlug nie. Dis waar hulle die mense wegsteek, vêr van die besigheidsklas af. Oral is baie wyse opinies, wat met baie oortuiging oorgelewer word en dan verduidelik word, want jy verstaan waarskynlik nie waarvan hulle praat nie.
  • Agter is ook die area waar almal hul bene strek of ‘n versnapering kom soek in die kombuis, so jy kan maar vergeet om ‘n uiltjie te knip.
  • Die enigste cherry op die koek, is as jy nog ‘n gang sitplek ook gekry het. Die sitplek is vir harde, gevoellose mense uitgehou. Sodra jy dalk die uiltjie geknip kry, verwilder die lugwaardin hom met haar trollie.
  • Siende dat jou vlug soveel korter is met al die karakters, vreemde reuke, stampe, stote en vermaak, het jy ook die voorreg om laaste af te klim, om seker te maak jy kry die meeste uit jou “beste aanbevole” sitplek, deur jou spesialis-reisagent. En ja, dit beteken jy is ook laaste in die ry vir die doeane en vir jou tas.

Ongelukkig vir ons, het ons met ‘n derde party bespreek. Dus het ons “spesialis” dit goed gedink om ons in ry 39D en E te sit. Daar was net 45 rye op die vlug. So ons het in die middel gesit, sonder ‘n venster, in die gang. Maar selfs met al my klagtes oor die agterste vleuel, is die voorste geriewe en gemak, nie ‘n volle R6000 p.p meer werd nie.

Langs my het ene Yuri gesit. Hy is nou ‘n behoorlike grys reisiger. Oorspronklik van Tel Aviv, maar gevestig in ons eie goue stad. Hy was al orals en baie aangenaam, maar ek lyk seker baie onervare vir hom. Hy sit my lig aan om te lees, hy slaan my tafeltjie af as ek moet eet, hy bestel my kos (gentleman), wys deur die hele vlug vir my tekens of ek ok is en sodra ek my oorfone afhaal of vir ‘n oomblik my uiltjie soek, dan vertel hy vir my nog ‘n staaltjie.

Agter ons was wyse dames oppad na Thailand, wat weier om hul moedertaal (fanagalo) te praat, net om seker te maak die hele agterste vleuel weet van hulle planne. En agter hulle was natuurlik ‘n baba wat met hulle gekompeteer het. My uiltjie was hok toe geslaan…

Ons eerste 8 ure vlug is agter die rug. “Slegs” 16ure oor oppad na Los Angeles.