Tag Archives: natal

Om te swem

Dis ‘n koue triestige dag op die suidkus. Daar is geen twyfel dat ek nou ‘n volbloed, local Nataller is nie.

Behalwe vir die feit dat ek besig is om my pragtige Afrikaanse aksent op te foeter, in ‘n propperse indiër-zulu-fanagalo in, kry ek nou ook deesdae koud. Ek kan nie eers onthou wanneer laas ek in die see geswem het nie.

Dis die 1ste September. Kamtig lente dag. Ek het so ewe ‘n blom in my hare vir die nuwe seisoen.

My man en Skoonpa het hierdie oulike gewoonte waar hulle, hulself terg en MOET swem op die 1ste September om die nuwe seisoen welkom te heet. Rain or shine, swem, sal hulle swem. Ek kon myself nog nooit so straf nie. Swem moet mos lekker wees. Swem is mos bedoel vir wanneer dit warm is en jy bietjie wil afkoel en ontspan. So hier sit ek in die “koue” (feels like 22°) en wag vir manlief om klaar te werk en sy eerste swem vir die dag, vir die maand en vir die seisoen, in te kry.

Vandat ons see toe getrek het, het my man die instelling gemaak, dat hy ten minste een keer ‘n maand, in die see moet swem. Ek wens ek kon dit ook waag, maar ek vat elke kans wat ek kry om strand toe te draf, walvisse te gaan kyk, roomys te eet of sommer net te sit en in die verte in te staar. En nou het ek nog ‘n nuwe stokperdjie om te probeer “blog” ook. Ek het van kleins af geweet ek hou van die see, maar het geglo dat ek eintlik ‘n bosveldmeisie is. Ek was verkeerd, “hou van” moes lief gewees het. Ek trek nooit weer nie.

N.S. Dis nooit te koud vir roomys nie.